GIDS VIR MATES

VERTREK

Vir die meeste mense is dit ‘n groot uitdaging om elemente saam te bring sodat die ruimte funksioneel en esteties is. Om ‘n vertrek reg op te meet, kan uitdagend en oorweldigend voel; daarom weet die meeste mense nie waar om te begin nie.  In ontwerp speel beplanning van die begin af ‘n groot rol.  Dit beïnvloed die kwaliteit van die eindproduk.

Ons breek die proses in fases op om die proses vir jou makliker te maak.

vertrek beplanning

Onthou om die vertrek skoon en netjies te maak sodat meeste elemente duidelik sigbaar kan wees.

1
Natuurlike Beligting

Kamera se “flash” asook al die ligte van die vertrek moet af wees.  Maak alle gordyne of blinders oop sodat daar lig van buite kan inkom.

Verkeerde beligting kan ongewensde skaduwees maak.  Die beste binnenshuise foto’s word geneem as dit bewolk is omdat die lig van buite dan konstant is.

2
Hou lyne reguit op jou kamera

Hou vertikale lyne van ‘n vertrek vertikaal en horisontale lyne horisontaal. Ons brein weet ‘n deur is ‘n vertikale lyn, maar die kamera se lens weet dit nie. Daarom moet die horisontale elemente, soos bv. tafel, plafon, vloer ens horisonaal reguit wees. En dieselfde geld vir vertikale elemente in ‘n vertrek.

3
Behou jou lyn op al die fotos

Hou jou kamera deurgaans op dieselfde hoogte bv. Hou bors- of ooghoogte met die neem van alle foto’s.  Dit skep ‘n meer gebalanseerde oorsig van die vertrek wat verseker ons verstaan die vertrek reg. Probeer om die plafon sowel as die vloer in die foto’s te kry.

4
Neem 'n vol foto van elke muur

Moet nie die muur met ‘n hoek afneem nie, neem eerder die foto reg van voor af. Neem laastens ook ‘n foto van die hele vertrek. Die foto kan met ‘n hoek geneem word.

VERTREK

Hoe om die vertrek opmetings te neem:

Die lengte (L), die breedte (B) en die hoogte (H) opmetings van die vertrek is baie belangrik.  Dit skep die ruimte waarin die meubels geplaas word; dit bepaal  die lugsirkulasie binne die vertrek en dit bepaal ook die hoeveel ruimte daar vir beweging is.

BENODIGHEDE

  • Maatband van ongeveer 5m, (5000mm).
  • Blokkies papier (laai blokkies papier hier af).
  • Skoon papier waarop jy jou vry hand skets gaan teken en mates neerskryf.
  • Potlood of pen. Dit werk maklik as jy verskillende kleure penne gebruik vir elke opdrag. Bv teken in swart. Skryf mates in rooi. Vensters in blou. Elektriese proppe en skakelaars in groen ens.
  • Liniaal, indien moontlik ‘n skaal liniaal.

Ons stel voor iemand help jou met die opmetings. Jy het een vloerplan nodig vir elke vertrek wat oorgedoen moet word. Alle mates moet mm wees en moet akkuraat wees. Om die werk te vergemaklik gee asseblief soveel inligting as moontlik.

*Let wel dat een blokkie 10mm op blokkies papier gelyk is aan 500mm in die regte lewe. Dus werk jy met die skaal 1:50. (1mm: 50mm)

OPMETINGS HULPGIDS

  1. Bo-aan albei die bladsye (blokkies papier en skoon papier), identifiseer die vertrek met verwysing na die doel of funksie van die vertrek. (bv. eet-, slaapkamer ens.)
  1. Teken die vorm van vertrek van bo af op die skoon papier sodat die volle vertrek op jou skets gesien kan. Dit hoef nie op skaal te wees nie.  (Sien skets 1)
  1. Meet die vertrek se sye (hoek tot hoek)Hier meet jy die lengte en breedte van vertrek. Meet ook die hoogte vanaf die vloer tot bo teen plafon (PH).  Dan het jy nou die L x B x H gemeet in mm.  Dui aan of die mure ‘n dubbel– of enkelmuur is.  Meet die dikte van mure by ‘n deur of venster (sien Skets 1).
Skets 1
Skets 2
  1. Teken alle venster- en deuropeninge in op jou skets:  venster (W) en deur (D).
  • Om die posisie van die venster- of deuropening te bepaal meet vanaf die hoek van die vertrek tot by die venster- of deuropening.
  • Meet dan die venster- of deuropeninge se basis (b) , hoogte (h).
  • Jy moet ook die hoogte van die venster vanaf die vloer meet.
  • Dui ook die materiaal aan waarvan venster of deur gemaak is bv. hout, staal, aluminium.

 

Verskaf alle mates op jou plan soos in Skets 2.

5. Teken dan die sye van die vertrek volgens skaal op die skoon blokkiespapier oor. Dit is jou plan van die vertrek wat jy vir ons gaan instuur.

6. Teken alle venster- en deuropeninge, volgens skaal, oor op jou plan (sien Skets 3).

Skets 3
Skets 4
  1. Teken enige ander detail elemente in, soos ‘n kaggel, pilare en ander voorwerpe wat nie geskuif kan word nie. Meet elke voorwerp en dui dit aan op jou plan. Onthou dat jy ook hier baie akkurate opmetings moet doen.bv: Kaggel – l x b x h
  1. Die posisie van ligskakelaars en elektriese proppe moet ook op jou plan aangedui word. Meet altyd van die middel van die skakelaar of prop na die naaste hoek van die vertrek. Dui ook aan of kragprop laag (L) of hoog (H) is (sien Skets 4).

VERTREK

Hoe om die doel en funksie van die vertrek te beplan:

‘n Vertrek is ‘n leefruimte.  Wat jy in die vertrek gaan doen, bepaal die funksie en ‘n doel van die vertrek, bv. Slaapkamer: ons slaap daar, maar ons lees ook in die ruimte en drink ‘n glas wyn in stilte. Hoeveel mense die ruimte gaan gebruik is ook van belang.

Ons wil elke vertrek ontwerp om aan jou spesifieke behoeftes te voldoen. Dit moet jou eie unieke ruimte wees waarin tuis gaan voel.

Skryf die doel en funksie van die vertrek wat beplan word neer asook hoeveel mense die vertrek gaan gebruik.  Dink na oor wat in die vertrek gaan plaasvind en watter benodigdhede geakkommodeer moet word, bv. beligting, meubels, dekor-elemente ens.

Nadat jy besluit het wat in die vertrek gaan plaasvind, is dit maklik om items by te voeg of weg te neem.

Watter dekor elemente kan jy bysit om die vertrek esteties en funksioneel te maak?  Soos byvoorbeeld ‘n skinkbord op die koffietafel waarin elemente soos ‘n afstandbeheerder vir die TV, boeke, ens. netjies gebêre kan word.  Mooi strooikussings op die banke wat TV-kyk gemakliker maak of ‘n mooi kombers vir die aande.

VOORBEELD VAN TV KAMER BEPLANNING
TV-kyk
Banke, TV en TV-kas, kussings en komberse, beligting
Video-speletjies
Gemaklike banke, ottoman, kas (om speletjies te bêre)
Lees
Boekrak, goeie beligting, kussings en komberse
Kuier
Gemaklike sitplekke vir ongeveer 10 mense, plek om glase neer te sit
Bordspeletjies
Mat, groot koffietafel, spasie, kas (om speletjies te bêre)

Stuur jou projek inligting in

‘n Vertrek is ‘n leefruimte.  Wat jy in die vertrek gaan doen, bepaal die funksie en ‘n doel van die vertrek, bv. Slaapkamer: ons slaap daar, maar ons lees ook in die ruimte en drink ‘n glas wyn in stilte. Hoeveel mense die ruimte gaan gebruik is ook van belang.